Wat kan eiendomsagente verwag van die nuwe Wetsontwerp op Eiendompraktisyns?

10 September 2018 879
“Ek bedryf ‘n klein eiendomsagentskap op die dorp. Ek hoor al ’n geruime tyd van die nuwe Wetsontwerp op Eiendomspraktisyns wat aan die kom is, en dat dit belangrike veranderinge inhou vir ons as eiendomsagente. Wat is die grootste veranderinge wat ons van hierdie nuwe wet kan verwag?”

Vir meer as 40 jaar is eiendomsagente gereguleer deur die Wet op Eiendomsagentskapaangeleenthede, 112 van 1976 (“Wet”). Dit sal egter verander met die nuwe Wetsontwerp op Eiendomspraktisyns (“Wetsontwerp”) wat waarskynlik in die nabye toekoms as wet aanvaar sal word, en belangrike veranderinge vir eiendomsagente en ander eiendomspesialiste sal inhou. 

Die eerste en mees vernamste verandering is die definisie van ‘n “eiendomspraktisyn” in die Wetsontwerp. Dié definisie is wyd en sluit eiendomsagente, verbandverwerkers, huuragente, eiendomsinspekteurs, waardeerders, bestuurders van eiendom en verbandreguleerders in. Die doel van hierdie breër definisie is om ‘n wyer spektrum van persone wat in die eiendomsbedryf betrokke is, te reguleer, en daardeur verbruikers te beskerm asook voorsiening te maak vir ‘n meer beheerde struktuur in die eiendomsektor.  

Die Wetsontwerp herdoop die Raad vir Eiendomsagentskapsake as die Regulatoriese Owerheid vir Eiendomspraktisyns (“Ombud vir Eiendomspraktisyns”). Enige klagtes wat die publiek teen ‘n Eiendomspraktisyn het sal deur die Ombud vir Eiendomspraktisyns hanteer word. Die Ombud vir Eiendomspraktisyns kan ook genader word om ‘n geskil tussen Eiendomspraktisyns te bemiddel, mits beide partye daartoe instem.  

In terme van die huidige Wet, word eiendomsagente sonder ‘n Getrouheidsfonds-sertifikaat verbied om kommissie te verdien uit enige eiendomsagentskapdienste. Die Wetsontwerp vat hierdie vereiste selfs verder deur te vereis dat ‘n eiendomspraktisyn die persoon wat hul reeds betaal het moet terugbetaal indien hul nie in besit van ‘n geldige Getrouheidsfonds-sertifikaat is nie. Verder maak die Wetsontwerp voorsiening vir ‘n breë lys van diskwalifikasies van die verkryging van ‘n Getrouheidsfonds-sertifikaat, waarvan die twee meer beperkende diskwalifikasies is wanneer ‘n eiendomspraktisyn nie in besit is van ‘n geldige SEB-sertifikaat nie, of nie in besit is van ‘n geldige belastingklaringsertifikaat nie. 

Die aanhef van die Wetsontwerp maak dit duidelik dat ‘n fokus van die nuwe Wetsontwerp is om te help met die transformasie van die eiendomsektor en daartoe by te dra dat dit ‘n beter refleksie van die Suid-Afrikaanse demografie is, asook Swart, Indiër, en Bruin Eiendomspraktisyns te help om meer aktief in die eiendomsektor te wees. Die Wetsontwerp poog om dit te ondersteun deur die stigting van ‘n Transformasiefonds wat deur die Department van Menslike Nedersettings geadministreer sal word, asook die skep van inkubasieprogramme om voorheen benadeelde eiendomspraktisyns by te staan. 

Daar is ook ander aspekte wat die Wetsontwerp poog om te reguleer waarvan jy as ‘n eiendomsagent kennis sal moet neem én sal moet implementeer sodra die Wetsontwerp in werking tree, soos vereistes vir rekordhouding, verpligte bekendmakingsvorms, ens. 

Die Wetsontwerp het voordelige maar ook belangrike implikasies vir enige eiendomsagentskap en sal dit raadsaam wees om verdere verwikkelings rakende die implementering van die Wetsontwerp dop te hou ten einde seker te maak jy is voorbereid vir die nuwe vereistes wat die Wetsontwerp daarstel. 
Share: