Hoe moet ek beplan dat my minderjarige kind erf?

07 February 2018 1177
“My vrou en ek het ‘n jong dogter. Ons beplan om ons boedelbeplanning op te dateer om voorsiening te maak vir ons dogter om alles te erf sou beide van ons gelyktydig tot sterwe kom, maar ons wonder wat sal gebeur sou dit die geval wees terwyl sy minderjarig is? Kan ons beplan vir hierdie gebeurlikheid?”

Ons reg bepaal dat minderjarige kinders (onder die ouderdom van 18) nie kontrakte kan sluit sonder die toestemming van hul wettige voog nie (ouer of hofaangewese voog). By implikasie, sal hierdie beperking ook minderjariges verhoed om bates te erf terwyl hulle steeds minderjarig is. Regtens so, ontstaan die vraag dan wie na bates behoort te kyk wat ‘n minderjarige kind moet erf. 

‘n Betroubare manier om te verseker dat die erfenis van ‘n minderjarige kind beskerm word tot die kind meerderjarig is, is deur ‘n trust op te rig. Die ouers kan sodanige trust oprig gedurende hul leeftyd (‘n inter vivos trust) of hulle testament kan so opgestel word om voorsiening te maak vir ‘n trust om gevestig te word met hul dood (‘n testamentêre trust). Hoewel die proses vir die oprig van hierdie trusts mag verskil, is die eindresultaat dieselfde, naamlik dat die aangewese trustees van die trust die minderjarige se erfenis namens haar administreer.   

As jy sou sterf, kan ‘n trust eiendom besit, donasies ontvang en geld van jou boedel erf. Wat ‘n trust ‘n baie goeie keuse maak, is die feit dat ‘n trust se besluite deur die einste trustees geneem word wat jy op jou diskresie aanwys. Dit vereis wel dat jy versigtig moet wees oor wie jy nomineer, maar gelukkig word die optrede van die trustees ook gereguleer en is hulle regtens verplig om altyd in die beste belange van die begunstigdes op te tree en die trust te bestuur ingevolge die wet en die bepalings van die trustakte – bepalings wat deur jou daargestel kan word.

Die gevaar as jy nie voorsiening maak vir ‘n trust nie, is dat enige fondse bemaak aan ‘n minderjarige kind, uitbetaal sal moet word aan die Voogdyfonds. Die Voogdyfonds val onder die administrasie van die Meester van die Hooggeregshof, wat fondse administreer wat daar inbetaal is. Voogde van minderjariges kan onderhoud van hierdie fonds eis, wat tipies sal insluit skool- en universiteitsgelde, klere, verblyf, en ander kostes wat deur die voog gemotiveer kan word. Maar om te eis van hierdie fonds kan tydrowend wees en jou kind afhanklik laat van die beskikbaarheid van amptenare wat etlike eise moet hanteer. Aan die anderkant maak ‘n trust voorsiening vir persone wat direk daarvoor verantwoordelik is om die beste belange van jou kind voorop te stel.

Ons sal jou aanraai om die opsie van ‘n trust, sowel as die opsies van moontlike trustees vir jou familietrust, met jou boedelbeplanner te bespreek sodra jy jou huidige boedelbeplanning hersien.
Share: